18/06/2026
𝗣𝘂𝗶𝗸 𝗽𝗿𝗲𝘀𝘁𝗮𝘀𝗶𝗲 𝘃𝗶𝗿 𝗕𝗹𝗼𝗲𝗺𝗵𝗼𝗳 𝘀𝗲 𝗱𝗲𝗯𝗮𝘁𝘁𝗲𝗲𝗿𝗱𝗲𝗿𝘀!
Ons is ongelooflik trots op ons Con Spirito-debatspanne wat die afgelope naweek uitstekend gevaar het. Altesaam sewe van ons spanne het deurgedring na die semi-finale rondte, wat op 30 en 31 Julie by Paul Roos Gimnasium plaasvind.
Baie geluk aan elke spreker en afrigter met hierdie besonderse prestasie. Ons hou duimvas vir die volgende rondte!
16/06/2026
𝗝𝗲𝘂𝗴𝗱𝗮𝗴 𝟮𝟬𝟮𝟲
Ons wens ons Bloemhoffers en al die jeug van Suid-Afrika ’n gelukkige Jeugdag toe!
11/06/2026
𝗪𝗼𝗲𝗳𝗶𝗲𝘀, 𝘄𝗮𝗮𝗶𝗲𝗻𝗱𝗲 𝘀𝘁𝗲𝗿𝘁𝗲 𝗲𝗻 𝗴𝗿𝗼𝗼𝘁 𝗴𝗹𝗶𝗺𝗹𝗮𝗴𝘁𝗲!
Gister het die viervoetige vriende van Pets as Therapy - South Africa by Huis Bloemhof kom kuier en vir 'n rukkie die eksamenspanning laat verdwyn. Leerders het van hul boeke vergeet en onderwysers van hul rooipenne, terwyl die liefdevolle woefies oral vreugde en rustigheid versprei het.
Baie dankie aan Pets as Therapy vir die spesiale besoek en die pootvol liefde wat julle met ons gedeel het!
10/06/2026
𝗕𝗮𝗹𝗹𝗲𝘁
Bloemhof vier met trots die besondere prestasies van twee leerders wat met hul talent en toewyding op die balletverhoog uitgeblink het.
Nina van der Merwe het uitstekende balletprestasies behaal en is bekroon met 'n Hoë Merietetoekenning in haar Royal Academy of Dance-balleteksamen, asook Goud met lof vir Vlak 7 van die American Academy of Ballet se Performance Awards.
Miene Birkholtz het by die Paarlvallei Eisteddfod geskitter deur 'n Cum Laude-toekenning vir haar Ballet Ensemble-optrede te ontvang. Sy is boonop as die beste deelnemer in haar kategorie aangewys.
Baie geluk aan Nina en Miene met hierdie uitstekende prestasies. Julle passie vir dans en strewe na uitnemendheid maak die hele Bloemhofgemeenskap trots. Ons wens julle alle voorspoed toe met julle verdere dansreis.
10/06/2026
𝗔𝗧𝗞𝗩-𝗗𝗲𝗯𝗮𝘁: 𝗡𝗮𝘀𝗶𝗼𝗻𝗮𝗹𝗲 𝗙𝗶𝗻𝗮𝗹𝗶𝘀𝘁𝗲
Met groot trots kondig ons aan dat Kaylie Herbst en Celina Quinot na die ATKV-Debat Landsfinaal deurgedring het!
Ná 'n indrukwekkende vertoning in die semi-finale ronde het hulle hul plek onder die Top 5 debatsspanne in die Wes-Kaap verseker en sal hulle op 3 Augustus by ATKV-Klein-Kariba in Bela-Bela, Limpopo, aan die landsfinaal deelneem.
Baie geluk, Kaylie en Celina!
06/06/2026
𝗪𝗲𝘀-𝗞𝗮𝗮𝗽 𝗡𝗲𝘁𝗯𝗮𝗹𝗸𝗮𝗺𝗽𝗶𝗼𝗲𝗻𝘀𝗸𝗮𝗽𝗽𝗲
Die o.14A-netbalspan het vandag aan die Wes-Kaap Kampioenskappe deelgeneem.
Die span het tot die kwarteindstryd deurgedring, waar hulle 8-10 teen Hoërskool Durbanville verloor het.
Baie geluk aan die spelers en afrigters met hul deelname en prestasie by die kampioenskap.
Foto's: HMS Bloemhof
05/06/2026
𝗔𝗧𝗞𝗩-𝗥𝗲𝗱𝗲𝗻𝗮𝗮𝗿𝘀: 𝗡𝗮𝘀𝗶𝗼𝗻𝗮𝗹𝗲 𝗙𝗶𝗻𝗮𝗹𝗶𝘀
Met groot opgewondenheid kondig ons aan dat Mikayla Koen tot die ATKV-Redenaars Nasionale Finaal deurgedring het!
Mikayla, ’n Graad 10-leerder, sal op 4 en 5 Augustus by ATKV-Klein-Kariba aan die nasionale rondte deelneem.
Baie geluk, Mikayla! Sonder om te redeneer staan Bloemhof vierkantig agter jou!
04/06/2026
𝗔𝗮𝗻𝘀𝗼𝗲𝗸𝗲 𝗻𝗼𝘂 𝗼𝗼𝗽 𝘃𝗶𝗿 𝗱𝗶𝗲 𝗣𝗮𝘂𝗹 𝗥𝗼𝗼𝘀 𝗥𝗵𝗼𝗱𝗲𝘀-𝗯𝗲𝘂𝗿𝘀
Bloemhof-oudleerders tussen die ouderdomme van 18 en 24 jaar word genooi om aansoek te doen vir die gesogte Rhodes-beurs – een van die wêreld se bekendste internasionale studiebeurse.
Die beurs bied aan uitstaande jong leiers van die Wynlanddistrik die geleentheid om nagraadse studies aan die wêreldbekende University of Oxford te voltooi, terwyl hulle deel word van ’n wêreldwye netwerk van akademiese, professionele en gemeenskapsleiers.
Lees meer en doen aansoek via: https://linktr.ee/hmsb
02/06/2026
𝗢𝗽𝗽𝗶 𝗧𝗼𝗻𝗴 𝗔𝗳-𝗳𝗶𝗻𝗮𝗹𝗶𝘀𝘁𝗲 𝟮𝟬𝟮𝟲
Die uitslae van die Oppi Tong Af-kompetisie is bekend gemaak en ons is trots om aan te kondig dat die volgende Bloemhof-leerders deurgedring het na die nasionale finaal!
Die finaal vind van 8 tot 10 Oktober in Centurion plaas, waar hierdie leerders hul talent op ’n nasionale verhoog sal ten toon stel.
Baie geluk aan elke deelnemer met hierdie besondere prestasie. Ons wens julle alle sukses toe vir die volgende ronde!